Monday, October 12, 2009

i read a book about the self, said i should get expensive help




Skaars twintig, het ek reeds geleer presies wat om met jou te doen. Dalk was dit my frustrerende intelligensie, dalk die eindelose swart gat wat sit net daar waar my siel veronderstel is om te wees. Dalk was [en is] ek bloot by nature manupilerend en aaklig om op te maak vir die feit dat ek oppervlakkig perfek is. Dalk was die speletjie sommer net my siek manier van pret he, om te kyk hoe jy uitasem agter my aan hardloop, soos ‘n drawwende oorgewig man agter die gedagte dat daar tog nog iets lekkers is agter die skreeuende wit yskardeur. Soos ‘n hygende Jack Russell wat net nog een keer die bal [wat ek gooi] wil terugbring na my. Hoe dit ook al sy, het ek dit gedoen en geniet, lag-lag voortgegaan, soos ‘n hanswors wat die kindertjies se omgedopte glimlaggies self so maak.




Huppel-huppel is ek oppad na die prikkeltjie dowwe groen lig aan die punt van ‘n eindelose tonnel wat ook nie rerig bestaan nie. Die liggie veg met alle mag, skyn sag, die kleur van die holtes waar my oë eens op ‘n tyd gesit het. In my hand is ‘n stukkie tou wat agter my aan sleep. En jy, soos ‘n katjie wat van niks beter weet, sig-sag oor die stowwerige, verlate ou paadjie, al grypend agter die waardelose stukkie dinges aan. Die fyn ou kloutjies kap-kap na die nuttelose toutjie wat net agter my hakke rond bons. Het jy nooit gedink om jou kloue skerp te maak nie? Daag my tog net uit! Drunk jou doring drade diep in my vel in, maak gaatjies in my skubberige vel. Moenie bekommer nie, ek is nie mens genoeg om to bloei nie. Glo my, ek het keer op keer op keer probeer, met lemmetjie-skerp woorde wat ek teen die spieël gooi sodat hulle terugskiet en my skerp op die wang vang. Klap my so hard as wat jy kan, daar waar dit wel sal seermaak. Doen net iets sodat ek jou kan haat, in plaas van myself- die siek sadis in wie se lyf ek vasgevang is. Sny my oop en plaas my groen-geel binnegoed in ‘n glaskas sodat almal dit kan sien vrot. Steriliseer my, sodat daar nog net nie nog sulke duiwels by my kan uitbroei nie.




Los my alleen en huilend op die koue badkamer vloer, in swart en wit geteël. Staar gevoelloos na my kinder-lyfie terwyl ek my vuiste dramaties heen en weer gooi en nog iets probeer breek sodat ek my dun polse met die splinters kan afsaag. Vra geld sodat mense die skouspel kan kom aanstaar, want dit is niks meer as ‘n mislukte aktrise wie se verval datum uiteindelik verby is nie. Jy tartel my met jou bose glimlag aan die anderkant van die deursigtige muur, so na aan my maar te ver om uit te reik ek jou gesig te krap met die gif wat uit my drup-drup soos ‘n kraan wat nooit sal ophou lek nie.




Ek het iets gebreek, maar vir die eerste keer hou jy die stukkies in jou hand.

No comments:

Post a Comment